ONS IS GOD SE EIE MENSE

Geskryf deur on Mei 30, 2014 in Maandelikse Oordenking

sistina5001

 

LEES JOHANNES 1:9-13

Dis lekker om te weet daar is ‘n kruis waaraan ons behoort.  Dis sleg om eensaam te wees.  Daarom is ons trots om te kan “behoort.”  Ons is trots op die familie waaraan ons behoort.  Ons is trots om aan ‘n sekere volk of ‘n sekere kerk te behoort.  Daar is min dinge wat so seer kan maak as hulle wat jy gedink het jou eie is, jou verwerp.

So was dit ook met Jesus.  Hy het na Sy eie mense toe gekom, “Sy eiendom” (vers 11).  Hy is uit die Joodse volk gebore.  Hy het die Jode Sy volk genoem.  En hulle het die rug op Hom gedraai.  Hulle het Hom nie aanvaar as die Christus, die langverwagte Messias nie  (vers 10).

In plaas daarvan dat hulde aan die Koning gebring word, moes Hy in ‘n krip in ‘n stal gaan lê.  Hy het Sy lewe lank nie ‘n vaste woonplek gehad nie.  Hy moes selfs vir Sy lewe vlug.  Natuurlik was dit vernederend.  Dit was pyn.  Hoe seer moes dit nie vir Jesus gewees het nie?  Hoe eensaam was Hy nie?  Almal wat Hom verwerp en die wat Hom nie verwerp het nie, het Hom nie vertrou nie.

En juis daarom verstaan Jesus ons so goed.  In die besonder in hierdie Kerstyd wil Jesus vir ons kom verseker dat in die donker van onseker toestande, in die donker van ons hartseer, van ons pyn, ons ongeluk, wil Hy Lig wees.

“In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die Lig vir die mense. 

Die Lig verlig die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie.” 

(Johannes 1:4 en 5.  Nuwe Lewende Vertaling). 

Jesus het die belofte van die Ou Testament kom waarmaak.  In Jesaja 62:16 staan daar:  “Ek maak die donker voor hulle helder lig, en die ongelyk plekke maar ek gelyk”  (Nuwe Lewende Vertaling);  Maleagi 4:2 staan daar:  “Maar die Son van Geregtigheid, met genesing in Sy vlerke, sal opkom vir hulle wat eerbied en respek vir My het.”   (Nuwe Lewende Vertaling).

Die Son van Geregtigheid het met Jesus se koms kom skyn.  Nie liggies aan kersbome nie.  Nee, die Son van Geregtigheid en redding vir die wederkoms.  Sien dit net raak.

En hierdie heerlike belofte is vir ek en jy.  Hy sê in Johannes:  “Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in Sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”  (Johannes 1:12, Nuwe Lewende Vertaling).  So, ek en jy is Sy eiendom.  Hy het na ons toe gekom.  Hy wil die ware lig vir ons lewens wees. Aanvaar dit net.  Hy sê mos as ons dit aanvaar het, het ons die reg om Sy kinders genoem te word.

Is jy een van Jesus se eie mense?  Onthou, jy het ‘n keuse.  Jesus het na Sy eie mense toe gekom.  Party het Hom aangeneem as die Verlosser.  Talle het Hom nie erken nie.  Het hulle rug op Hom gedraai.

Jesus wil hierdie Feestyd wat ons nou vier, opnuut vir ons verseker dat Hy na Sy eiendom toe gekom het.  Sy eie mense wat Hom aanvaar met ope arms en ope harte.  Mense wat leef vir die dag as Hy weer kom.  Vir hulle is hul diens aan Christus die belangrikste.  Vir hulle is dit nie so belangrik om deel van ‘n sekere volk of sekere politieke party te wees nie.  Hulle wil nie noodwendig deel van ‘n belangrike familie wees nie.  Dis nie vir hulle so belangrik of hulle wit of bruin of swart is nie.

Hulle wil deel wees van Jesus se familie.  Hulle wil Hom dien en loof. Dis mense wat aan die Christus-party behoort.  Hulle is Jesus se eie mense.  Dié wat Hom aangeneem het.

Hulle en ek glo – ons – moet in hierdie tyd feesvier.  Nie omdat ons ‘n krismisvader verwag of groot presente nie.  Nee, omdat ons die Hoop van die wêreld verwag.  Ons vier fees omdat ons Jesus se eie mense is.  Omdat die Son van Geregtigheid oor ons skyn.

Gebed

Jesus, dankie dat ons U eie mense is.

Help ons om dit weer in hierdie tyd te besef.

En help ons om nie deel te wees van hulle wat die rug op U gedraai het nie.

Amen

Teken In

Skryf jou epos adres hier in om Perisos se Maandelikse Oordenking per epos te onvang.

Subscribe via RSS Feed

Comments are closed.

Top