Pitkos
Sunday, December 05 2010 @ 03:42 AM CST
PITKOS. 1 DESEMBER 2010
LEES MATTEUS 2:9-11
Het jy al gees gevang? Het jy al in die gees van Kersfees gekom? Daar is mos so ‘n andersheid rondom Kersfees. Party mense praat van ‘n “feeling”. Dis mos die tyd van partytjies en geskenke en winskopies en kersbome en drank en eetgoed. Mense vier ‘n fees om vir hulself ‘n bietjie vreugde te skep. Om hulself te probeer gelukkig maak.
Tog besef ons die vreugde is maar van korte duur. Ons gaan Kerstyd tegemoet en te midde van die vieringe gaan my hartseer net nog groter wees. Daar gaan net meer motorongelukke wees. Die eensaamheid gaan nog groter wees. Ons verlange gaan meer wees.
Tog soek ons iets. Ons soek in hierdie tyd na iets om die donker in ons lewens, die donker van die geweld en misdaad, die donker van onseker toestande ‘n bietjie ligter te maak. Daarom probeer ons vir onsself vreugde skep, maar die vreugde gaan verby. Kersfees bring vir talle mense nie vreugde nie omdat die ware betekenis by hulle verbygaan. Omdat dit nog nie ‘n ware Christusfees geword het nie. Mense soek na die sin van Kersfees omdat hulle nog nie die Christus van die fees ontdek het nie.
Het jy al in die gees van Kersfees gekom? Maar eintlik praat ek verkeerd. Ek moet vra: “Het die Gees van Kersfees al in jou gekom?” Het die Gees van God al in jou gekom?
Dan sal jy weet – Jesus Christus was nie net ‘n babatjie wat in ‘n krip in ‘n stal agtergebly het nie. Jesus se verhaal is nie maar net ‘n mooi verhaaltjie waaroor ons graag sing en toneeltjie opvoer nie. Ons moet ook kyk na die skaduwee wat die wiegie maak. Die skaduwee van die wiegie vorm ‘n kruis. Gelukkig ook ‘n oop graf.
En hierdie Jesus is ‘n werklikheid – vandag. Sonder dat ons dit altyd wil weet roep ons harte na God. Ons erken dat ons hart soek na vreugde, vrede, na geluk. Maar ons besef nie altyd dat dit alleen deur Jesus moontlik is nie. En dis juis deur vreugde in die verkeerde dinge te soek dat ons die stem van ons hart doodsmoor. En die ergste is dat ons deur al die geraas nie God se stem hoor nie.
Die sterrekykers het eerlik geluister. Hulle het al hul bedrywighede gelos, hulle het hul aardse skatte gelos en na Jesus gaan soek. En hul soektog is beloon!! “Toe hulle in die huis ingaan, sien hulle die Kindjie by Maria, Sy ma, en hulle val voor Hom neer en aanbid Hom. Toe maak hulle hul skatkiste oop en gee aan Hom geskenke van goud en wierook en mirre.” (Matteus 2:11. Nuwe Lewende Vertaling).
Hulle werk was om na die sterre te kyk. Hulle het elke nag ‘n klompie sterre gesien. Maar hulle was eerlik genoeg om te besef daar is ‘n ster wat anders lyk as die ander.
Ons het ook ‘n Ster. ‘n Ster wat hopelik in hierdie feestyd vir jou helderder as die ander sal skyn. Die Ster wat betekenis gee aan lewens. Die Ster wat skyn deur God se Woord en Sy Gees. Ons Ster is Jesus.
Dit gaan nie net oor ‘n babatjie in ‘n krip nie. Dit gaan oor die lewende, opgestane Verlosser. Hy wat vandag ‘n werklikheid is. Al vier ons Kersfees in ‘n donker tyd, Jesus is die Lig. Al gaan Kerstyd verby, al word die versierings afgehaal, al word die liggies afgehaal, die kerse doodgeblaas, die fees gaan voort. Die feesviering gaan voort, want Jesus is ewig.
Geniet maar jou Kerstyd. Dit is ‘n vreugdefees. Maar dis alleen ‘n vreugde as dit waarlik ‘n Christusfees is. Jy sal Hom nie op die partytjie kry nie. Jy sal Hom nie in die geskenke kry nie. Hy kruip ook nie weg in ‘n rooi jas of agter ‘n wit baard nie.
Nee, Hy skitter soos ‘n Ster in Sy Woord. In jou kamer. In jou kerk. Hy is die blink Môrester (Openbaring 2:28). Hy is die Here van Kersfees. Die Here van vandag. Jou Verlosser.
Gebed.
“Here, laat U Lig my lewe verlig.
Help my om in U Lig vreugde te vind.
Maak hierdie Feestyd vir my waarlik ‘n Christusfees.”
Amen
Saamgestel deur Henk Greeff
Artikelopsies